Resumen
Suid-Afrika lewer nie genoeg natuurwetenskaplikes op om in die ontwikkelingsbehoeftes en ekonomiese groei van die land te voorsien nie. Leerders vaar ook relatief swak in nasionale en internasionale assesserings omdat baie onderwysers nie beskik oor die vereiste pedagogiese inhoudskennis en vaardighede om die voortdurende kurrikulumveranderinge die hoof te bied nie. Die etnografiese studie waaroor in hierdie artikel verslag gedoen word, bevestig vorige bevindings dat onderwysers in lewenswetenskappe-onderrig nog hoofsaaklik van oordraggebaseerde onderrigmetodes gebruik maak. Op grond van die teorie van die sone van proksimale ontwikkeling word aangevoer dat bestaande ontwikkelingsprogramme vir onderwysers ontoereikend is om die probleem die hoof te bied; die gaping tussen die werklike ontwikkelingsvlak van die onderwyser en die eise wat aan hom of haar in die onderrig gestel word, is te groot. ?n Nuwe program vir die ontwikkeling van onderwysers, naamlik ?n effektiewe ekologie van praktyk, moet ontwikkel word. Dit sal die betrokke ontwikkelingsprogramme konteksspesifiek maak en dus beter in die individuele behoeftes van onderwysers voorsien. Maatskaplike aanspreeklikheid teenoor onderwysers moet gesien kan word in hul bemagtiging. In di? artikel maak die outeurs aanbevelings aangaande die professionele ontwikkeling van onderwysers binne ekologie? van praktyk.