Resumen
Waardering vir die status van natuurwetenskaplike kennis volg ?n merkwaardige wentelgang deur die geskiedenis van die filosofie en die verskillende vakwetenskappe. Te midde van ekstreme uiterstes moes die benadering van Einstein ?n rigting vind wat beide ?n eensydige apriorisme en ?n oordrewe positivisme afwys. Die historiese agtergrond van die aprioriteitsprobleem ? dit wat ons ervaring voorafgaan ? is vlugtig nagespeur tot by die Griekse wortels daarvan. Omdat Einstein ruimte gelaat het vir skeppende denke, het dit hom weliswaar in staat gestel om van die universaliteit van sleutelaspekte van die natuur gebruik te maak, in die besonder gefokus op die uniekheid en die samehang van die kinematiese en fisiese aspekte van die werklikheid. Enersyds het die onderskeid tussen hierdie twee aspekte ?n vertrekpunt verskaf om kritiek te lewer op die meganistiese inslag van die klassieke fisika (toegespits om die onderskeid te tref tussen omkeerbaarheid en onomkeerbaarheid), en andersyds het die ontiese universaliteit van hierdie aspekte hom gehelp om hierdie onties aprioriese gegewens tot hul reg te laat kom, ook ten opsigte van die eise wat die ervaring stel (die relatiewe reg van die positivistiese klem op die eksperimentele toetsing van tipewette). Hieruit volg dat Einstein se siening met reg as ?n transendentaal empiriese benadering getipeer kan word. Dit belig ook die onderskeid tussen modale wette en tipewette, asook die skynbaar misterieuse toepaslikheid van die wiskunde op natuurverskynsels. Laastens word aangevoer dat die onlangse beweringe oor die snelheid van die neutrino wat vinniger as di? van lig sou wees, ni? Einstein se spesiale relatiwiteitsteorie (sal) weerl? nie.